Bly Op Die Regte Spoor Met Beste Banddruk

Met stygende brandstofpryse wil boere seker maak hulle kry die meeste voordeel uit hul brandstofgeld. ’n Uitstekende manier om brandstofuitgawes te verminder en produktiwiteit te verbeter, is om toe te sien dat trekkerbande tot die optimale druk gepomp word.

Bandbestuur kan groot voordele vir boere inhou wat betref doeltreffende brandstofverbruik en die werkverrigting van die trekker. Só sê mnr. Stephan van Staden, nasionale landbouspesialis by Bridgestone, vervaardiger van Firestone se portefeulje gespesialiseerde landboubande. “Bande is verantwoordelik vir ’n kilowatt-verlies van 20% tot 40%. ’n Groot faktor wat daartoe bydra, is die druk waarteen die band gepomp word in verhouding tot die vrag wat deur die trekker vervoer word. Dit verg ’n bietjie werk om dit reg te kry, maar dit is die moeite werd om te doen.”

BANDGROOTTE

Die kernbeginsel is om te verseker dat die regte hoeveelheid bandoppervlak in aanraking met die werkoppervlak (die spoor) kom. Benewens die vrag wat die bande dra, is die bandgrootte ’n belangrike faktor wat die spoor beïnvloed. As ’n band te styf gepomp word, is die spoor te klein. Dan sal daar oormatige bandglip wees en die brandstofverbruik sal hoër as nodig wees. Daarby sal die band vinniger afslyt en dus gouer vervang moet word.

Bande wat nie styf genoeg gepomp is nie, se spoor is te groot en dan is daar te min bandglip. Die resultaat sal beskadigde sywande, ’n onreëlmatige slytpatroon en selfs die moontlikheid van ’n gebreekte aandrywingstelsel wees. STATIESE LAAIRADIUS Boere moet die tegniek bemeester om die korrekte banddruk vir die spesifieke taak te bereken. Die maklikste metode is om die statiese laairadius as grondslag te gebruik. Die statiese laairadius is die afstand tussen die middelpunt van die asnaaf op die agterwiel en die grond. Hierdie meting word in die band se inligtingsboekie verskaf. Deur die statiese laairadius met ’n volgelaaide trekker te meet, kan maklik gesien word of die band te styf of te pap gepomp is. As die statiese laairadius 50-100 mm minder is as wat die vervaardiger aanbeveel, is die band te pap of die vrag te swaar. Om dit reg te stel, kan die band stywer gepomp word (hoewel nooit meer as 160 kPa nie). As die statiese laairadius steeds nie ideaal is nie, is die vrag te swaar vir die bande. Indien die statiese laairadius egter te lank en die band te styf gepomp is, kan dit afgeblaas word totdat die korrekte statiese laairadius-meting bereik word. Hoe nader die statiese laairadius aan die waarde in die inligtingsboekie is, hoe beter sal die trekker presteer en hoe langer sal die bande hou.

BESPARING Voorbande moet tot dieselfde druk gepomp word as die agterbande, plus 20 kPa. Sodra hierdie meting vir ’n bepaalde werktuig gedoen is, moet dit aangeteken word sodat dit nie herhaal hoef te word nie. “As die trekker korter in die veld hoef te wees om die werk gedoen te kry, minder brandstof verbruik en sy bande langer hou, kan dit ’n aansienlike besparing oor ’n produksiejaar meebring,” sê Van Staden. “Boere kan hul Bridgestoneverskaffer nader om te verseker dat hul trekkerbande optimaal gepomp word. Sodoende sal hulle op die regte spoor wees om ál die moontlike voordele te kry.”